Tuesday, December 12

Kook my, eet my, verteer my!


Ola!

Wat ‘n lekker dag het ons vrydag nie gehad nie. En dit nadat daar 60% kans vir reën VOORSPEL is. Nou ja min weet wat persentasie rêrig beteken. Maar selfs ek was geskok na donderdag, toe die son amper so mooi soos my beter helfte geskyn het! En nee dis nie die duiwel met ’n flits lig nie...

Waar is jy nou?

Ons jaarlikse werks funksie is gehou. En ek, wat deel is van die Funky Group by werk, is uitgedeel by die potjie kos kompitiesie. Was dit nou feeste om almal se potjies te help reg kry. Maar laat ek eerder nie van kos praat nie, maar my dag...Dit het so goed begin...Vir verskeie redes natuurlik. By die potte uitgekom...ek wou mos ’n kaas en bier pot brood maak. En snaaks genoeg is ek altyd een wat vir mense lag omdat hul nie ’n resep volg nie...So meng ek die bestandele...en begin bier gooi...na een botteltjie, lyk die mengsel droog, en vir een of ander rede het ek bly onthou van die deeg wat my liefste moeder altyd gemaak het, en dit was GLAD nie droog nie...Na nog so kwart bier, lyk dit beter...maar toe besef ek met ’n harde vloek woord in my grys stof...ek is besig om skons te maak...wat ’n gemors...Ek het toe vir almal lat weet dat ek my pot brood verander na “pot muffin”. Almal het gesê dis baie lekker, en dit was, dit was net nie die oorspronlike poep gewees nie. Die potjies was heerlik. Een was bietjie sop, en ek het duitsers by ons werk gevra om duitse pot te maak. P-I-G(mens mag nie meer vark sê in goeie geselskap nie) en suur kool. Was dit nou lekker. Maar natuurlik was die beste pot my en Nico sin. Ons het nie gewen nie, maar flip die pot was lekker. Ek het myself oor-eet natuurlik. Ek het soos ’n pot gelyk en voel toe ek huis toe ry. En rol-rol by my woonstel voordeur aangekom. Ek moes natuurlik eers ’n stort vang...en met die vol mag het ek my bene stomp gehardloop maar kon nie die blerrie stort ingehardloop kry nie. Moes net my hare was. Want ek het erger geruik as ‘n plakkerskamp hut....wat rook betref. En vroeg vroeg het klaas vakie sy sand kom afgooi by my. Nie liggies nie...want ek het hard met die bed kennis gemaak. Maar ek het heerlik geslaap, lekker, snoesig...*wink wink* Om terug te kom na die potjie dag...

Ek is moeg maar gelukkig danksy jou!

Met my beter helfte aan my sy...het ek die dag ongelooflik baie geniet. Almal wat saak maak, was mal oor my klein “wonderwerkie”. Ek het naderhand gevoel soos ’n skou perd en het amper begin pronk. Gelukkig het my ma my beter geleer. “Sy” was so tuis tussen die oulike mense. Net daar het ek besef ek hoe baie ek geseënd is. En hoe gelukkig ek is om iemand so wonderlik soos “Sy” te ontmoet in ons korrupte klein aardbol. Ek verstaan nie hoe ek ooit met my lewens pad geloop het sonder “Haar” nie. Want niks van my lewe voor ons ontmoeting maak meer sin nie? Ek kry rillings as ek dink wat as...wat as ek nie by my vriend geëet het nie…wat as “Sy” nie opgedaag het nie…wat as my vriend ons nie saam genooi het nie? Maar dan besef ek die Vader is in beheer van my lewe. Ek dink soms ek is die hoofman oor my bestaan...maar ek is nie. Ek het sommer nou dadelik vir “Haar” ’n sms gestuur...Een van vele in my dag. Dis miskien te veel maar ek sms “Haar” elke keer as ek aan “Haar” dink. Ek kan dit nie help nie. Ek het van oggend vir “Haar” gesê ek sien “Haar” in alles wat ek doen. Ek het so 30 persent deurskynende prentjie van haar op my agter oog vlies. En maak nie saak wat ek doen of voor kyk nie...ek sien haar...selfs as ek my oë toe maak sien ek haar. En dan bring haar visie hierdie vrede in my...En ek kan glimlag op ’n neerdrukkende warm dag, en stinkende dag, en net “te veel werk vir een” dag...En ek voel met nuwe moed weer lus om almal eerstens te gaan pk wat my moeilikheid gee, en tweedens om beter werk te verrig! Dankie my “wonderwerkie”. Dankie dat jy vir my glimlag, Dankie dat jy my sms, dankie vir jou weg gesteekte briefies. Dankie vir jou gesels, Dankie vir jou kyk...en dankie dat ek jou hand mag vashou. In my lewenspad is ons ontmoeting die hoogtepunt! Die hoogtepunt van nuwe dinge, nuwe betekenisse en hoogtepunt van herstel, geduld, liefde en waardering!

Ek mis jou!!

Sondag het ek saam met my “wonderwerkie” by familie gekuier. Ons het lekker gelag en gesels. En heerlik geëet. My oom is bobaas kok. En my tannie het ’n kersie, feta, salami slaai gemaak. Klink snaaks maar dit was heerlik. Die P-I-G boud was ongelooflik lekker en sappig.

En daar het ek ook amper myself oor-eet. Maar gelukkig het ek groen tee in my yskas...vir die wat dit nie ken nie...Kry vir julle...dit laat jou uitlaat pyp wit brand soos dit jou binneste ontgif.Dit help om so nou en dan net jou liggaam te reinig. Anders kry jy dalk kak idees...En in my lyn van werk sal kak idees my groot belemmer! Viva lewe!!

Praat later!

Wednesday, December 6

Is dit dood wat ek ruik…



Dis storie tyd. Ek het gister, vreeslik moeg en deurmekaar, my lam bene oor my drimpel getrek. Die denkbeeldige “Welkom” matrassie voor my deur het my hart verbly. Gedurende my ontkleding van werks klere en fabriek stank, het ek ‘n ander onaangename reukie raak geloop. Net daar en dan het ek besluit om my neus speurder te hou. Eerste gedagte: POK! Ek het vergeet om my wit troon skoon te laat spoel met brackenfell se brak water. O nee, ek gebruik die werk se wit troon so veel moontlik. Want in die lewe is dit GEE en NEEM, en as ek poef salaries GEGEE word, dan moet die werk my “presentjies / fakse” NEEM. Volgende item op my soek lys…koelkas. Ek is trots om te sê ek hou nie items in my koelkas totdat dit hans begin terug praat of verkleur nie. So groot was my blydskap ook toe die koelkas nie geblameer kon word nie. So deursnuif ek my wasmasjien, die mikrogolf oond, my vuil wasgoed mandjie en my kamer vir lang verlore maag gasse wat weg kruipertjie speel in kaste dalk.

NIKS…nou wat kan dit wees. Met nadere ondersoek, besef ek die reuk wat my siel vergruis, kom van buite en my spaar kamer het mo seen moerse gat in die deur. Dis asof ‘n atlantis rot, hulle is so groot soos katte, sy tande gesluip het op my soliede agterdeur. Ek is met lampe, kerse, grawe en met kos wat in rantsoene opgedeel is, uit by my voordeur. Met groot avontuur lus loop ek om die draai van my woning. Dis net daar waar my asem vir my weg hardloop, my oë traan en ek alle gevoel in my onderlyf verloor. Het my afrika bure dit nie goed gedink om ‘n VUIL doek - nie skoon doek soos men sou verwag het nie - maar VUIL doek op te hang op die wasgoed draad nie. Self die yster draad wat gespan is vir SKOON wasgoed, het laag gehang soos die reuk sy yster molekules anti-kloks laat rondomtalie het. Ek het natuurlik alles saam gebring behalwe ‘n vars suurstof tenk. En met haastige voete en wasige visie het ek dit terug gemaak waar die wind my lewe, wat reeds op draadjie was, terug gegee het. Ek het dadelik my woonstel in gestorm en alle vensters en deure toe geseël met handoeke, lappe en hemde waar daar DALK gate kan wees. Na 30 minute van kragte bymekaar skraap en baie water drink, het ek dit goed gedink om langsaan te gaan klop. Dis nie hulle doek nie…So staar die volgende 4 woonstelle se bewoners my aan met groot gelag. Dis nie hulle nie. By die 5de woonstel, wat 50 meter van my af is en sy eie wasgoed draad het, sal die afrika moeder met oorgawe en wit tande vir my vertel sy is jammer. Sy het wasgoed opgehang, kind was by haar, doek is vuil gemaak en net daar het sy opgehang en skoon vergeet van die vullis op die wasgoed draad. Ek wou vra hoekom sy nie haar eie gedeelte gebruik nie. Maar ek verstaan dat baie mense die wasgoed draad moet gebruik. Nou ja, vir 2 ure daarna het ek probeer om die groen wolke in my woonstel te ontsmet met alles wat ek in die hande kan kry. Ek moes orige verf blikke weer oopmaak en hier en daar weer die muur laat verf waar die reuk die huidige laag verf laat afdop het. Maar alles is nou skoon en netjies vir my gaste se besoeke. Ek wil sommer nou weer vir my ouers omverskoning vra vir wat ek in my doeke vir julle gelos het. Julle is wonderlike ouers!

Ek is seker my “ma vriendin” gaan lekker lag vir die storie. Want sy het dieselfde deurgemaak. Nou ja…nuwe respek vir jou! Sterkte vir die doeke tyd wat nog voorlê indien enige. Maar ek onthou nou die doek tyd is verby? En viva alle kinders van afrika!


Tuesday, December 5

Probeer dit vir grootte!

Mans kan soms so ondankbaar wees! En dit sluit hierdie vars piesang in wat skryf. Nee ek is nie verhewe bo ander nie. Sal dit nooit dink nie. Maar ek dink anders as die lot. Om altyd saam met die stroom te swem is een groot ingroei toon-nael vir my. Ek het lank laas enige ingroeisels gehad as gevolg van eie denke, maar ek is nie vir altyd verlos van hulle nie...

Kom ek maak die punt duidelik vir van my lesers...Nee ek sit die my kers lig op iemand spesifiek nie, as ek na 12AM skryf as gevolg van geen slaap, praat ek deurmekaar. Ek weet dit. Maar my punt mede lesers en skrywers, is dat ek al die ergste stories gehoor het oor skoonma’s. Ek kan net nie bewyse kry vir enige van die stories nie. Miskien omdat ek so oulik is, of miskien omdat my liefste moeder my met groot geduld geleer het, as iemand ’n minuut ouer is as jy, het jy respek vir daardie persoon. Totdat die respek misbruik of opgesnuif word soos ’n kokaiene monster. En ek bieg hier met groot glimlag, ek het nog nooit ’n moeder ontmoet wat nie van my hou nie. En dit is eerste vertel deur ’n baie goeie vriend van my. Hy verstaan hoekom hul van my hou, hy sê dit is net ongelooflik om iemand te ken waarvan alle ma’s hou en vertrou. Ek kan op een hand tel van vriendinne se ma’s wat dink ek is totaal en al kens en behoort opgesluit te word, maar niemand het nog die wit gejasde bliksems gebel nie. Want ek sit nog hier...Miskien is dit ook te danke aan my 15 keer verhuis in 2 jaar. NIE MY SKULD NIE!

Maar aan al die mans wat so gretiglik met ’n bier, hul doen dit net as hul braaf gedrink is of ander manlike ore het wat luister, staan en vertel hoe erg hul skoonma’s is...Lees mooi....Shaka Zulu, die koning van die zulu’s, het iets soos 200 vroue gehad in sy kort leeftyd. Jy wat jou brandewyn suig soos ’n pas gebore baba sy melk, hoe durf jy jou vinger wys? Kyk moenie nou ’n fout maak nie, Shaka was nie ’n normale mens nie, hy was van looitjie getik. As hy nie van jou gehou het nie, is jy ter dood veroordeel, so ek sal die argument met graagte aanvaar dat die skoonma’s dalk bang was vir hom. Maar as jy in die geskiedenis ingaan, was die vroue van menige groep homo erecti erger bloed bepok as die mans. Agter elke man, staan daar ’n vrou met ’n wapen van haar keuse. Ons is baie gelukkig in vandag se tyd dat die wapen ’n koek roller of skerp tong is...want ’n spies, mes, swaard, etc in my ribbes sal nie deeg nie. Dit sal my net loop-en-val siekte gee en dalk met ’n laaste asem my hare terug blaas. Ek het nie ’n skoonma nie op my huidige lewens paadjie nie. Ek het wel ’n wonderlike beter helfte saam wie ek nou dan by haar ma of saam haar en haar ma kuier. En dis ongelooflik lekker! Geniet elke oomblik daarvan terdeë. Ek het baie respek vir my klein “wonderwerkie” se ma. Sy is ’n ongelooflike vrou! Miskien is ek net baie gelukkig. En nee, ek is seker daar is hekse daar buite. Daar moet wees, maar ’n groot getal van die klaende man kouse doen dit omdat dit hul laat beter voel oor hulself. Ek weet ek kla oor my werk en salaris want dit laat my beter voel en af blaas. En omdat mense luister. As niemand geluister het nie, was ek stom verklaar, want ek sou nie ’n woord gesê nie. Net my whiskey gedrink het en my siggaretjie gesuig het asof ek kompitiesie deelneem.

Ek het groot aardse liefde en respek vir enige ma in die natuur. Ek dink julle is wonderlik, sommige van die ma’s se kinders is nie wonderlik nie, maar ek sal julle nie hof toe vat nie. Dankie alle mamma’s! En ons is lief vir julle!